HOE ONS ONTMOET HET

Sjampanje proppe het wyd geskiet toe die Stapelberg familie bruilof vier. Cornéll was daar as ‘n gas en het dadelik ‘n blonde kop, blou oog seuntjie se oog gevang. Hy het heel aand deur vir dié mooi tannie blommetjies aangedra terwyl sy pa salig onbewus was van wat vir hom inwag.

Cornéll was veronderstel om net ‘n paar dae in Nelspruit oor te bly, maar soos die nagte deur gekuier word saam met Ferdie het die eind fluitjie lánk na die 80 minute verby is, eers geblaas. Hulle paaie het geskei by Schoemans Kloof en nog nooit weer nie.

DIE BEGIN 

Die eerste soen het Cornéll heel onverwags ontvang oppad kombuis toe in daardie eerste paar dae. Die effek daarvan was wel kragtig genoeg om ‘n band tussen hulle te vestig. Soveel so dat ‘n soete, onskuldige dogtertjie dit aanvoel en vir Cornéll die volgende dag sê dat sy nou nog ‘n mamma het.

Terug in Gauteng het Cornéll en Ferdie nie op hul laat wag nie. Die wasgoed was skaars droog voor hulle saam gaan kamp het, en ‘n paar weke later Ferdie posisie inneem agter die kospotte by haar verjaarsdag vieringe. Die gaste was heel verbaas oor hoe vriendelik sy met die kok is, maar teen die einde van die aand het almal Ferdie aan die hoof van Cornéll se etenstafel verwelkom.

DIE GROOT VRAAG

Cornéll se Kersfees wens is met ‘n vae glimlag deur Ferdie ontvang, selfs haar verjaarsdag het suur saam die soet opgedis. Haar pallet was eers op 8 April die kans gegun om die perfekte smake te proe soos net deur ‘n Meester voorberei kan word.

‘n Prag ring het waarlik ‘n gat in Ferdie se sak gebrand, want met ‘n meester speurder soos Cornéll in die huis is geen hoekie ‘n veilige nis. ‘n Romantiese ete by Black Bamboo het haar paraat gehad en elke beweging of aanraking het haar hart vinniger laat klop. Na die hoeveelste vals alarm het die teleurstelling en mismoedigheid begin inkruip. ‘n Draai in die soete aandlug na ete het wel Cornéll na haar asem laat snap toe Ferdie die knie buig en haar hand in syne neem. Vir nou, vir ewig, vir altyd…